Amos

Gebedsbrief 6 April 2019

Liewe (Amosvriend), ek hoop dat jy gesond is en dat dit in alle opsigte so goed gaan met jou as wat dit geestelik met jou gaan" (3 Joh vers 2).

Voorspoed en seën! Dien Hom met oorgawe.

Wie werklik bid, kom van alle selfgesentreerdheid los. Die gebed maak die eie siel minder belangrik en die mense om ons meer belangrik. Jörg Zink

Bid God se wil en jy sal gewaarborgde gebedsverhoring beleef!

"En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enige iets volgens Sy wil vra" (1 Joh 5:14).

Vandag staan ons stil by: Verdiende loon.

Bid dat God se wil in jou lewe sal geskied. Sy wil vir jou is 394. dat jy daagliks met die besef sal leef dat die Here God is.

Lees: Esegiël 23:40-49 “Julle afstootlike gedrag sal op julle eie kop afkom Dan sal julle besef dat Ek die Here God is.” (vers 49)

Vanaand toe ek op die TV nuus sien van die sestigjarige Amerikaanse ma wat haar seun en sy mans vriend se baba gedra het en die twee manne sit daar met hulle “eie” baba op die rusbank, toe wonder ek onwillekeurig – hoe lank nog, Here? U het Sodom en Gomorra met vuur en swael verteer vir heel moontlik veel minder as wat ons deesdae beleef. Hoe lank nog, Here? Is die dood, vuur en swael, nie ons verdiende loon nie?

Waarmee is ons besig? Is ons gedrag nie ook maar afstootlik voor God nie?

Esegiël vertel in die gedeelte waarom dit nodig geraak het dat Jerusalem gestraf moet word. “Bieznis ies bieznis” het die Jood gesê. Maak ‘n geldjie terwyl die hand iets vind om te doen. Enige iets net om ‘n winsie te maak. Tot vandag toe is een van die grootste uitdagings in besigheid seker om integriteit te bepaal. Is die man eerlik of is hy besig met ‘n plan? Jerusalem se besigheidsmanne sou enige iets doen vir goeie besigheid. Selfs prostitusie op die koop toe solank die besigheidsman net tevrede is met die transaksie en vir die “diens” wat in Jerusalem gelewer word. Eintlik was die afgodery waarmee hulle besig was netso ‘n gruwel. Ander volke se gode is gedien en die slegte verhouding met Jahwe het ook gedui op owerspel. Hulle was ontrou aan Jahwe. Hulle was besig met geestelike hoerery.

In plaas daarvan dat Jerusalem vir die ander volke vertel van die wonderlike God wat hulle aanbid en dien, het hulle by die ander volke en hulle gode aangepas. Hulle het besigheid gedoen soos die heiden dit doen. Die boodskap wat uitgaan deur hulle ontrouheid is dat Jahwe – die Here - nie die moeite werd was om te dien nie. Volgens vers 47 sal hulle met klippe doodgegooi word. In hierdie oorlog sou die stad geheel en al verwoes word.

Deur hierdie bittere swaarkry sal hulle, die mense van Jerusalem, weer besef wie die Here is. Hulle sou besef dat Jahwe waarlik God is. Hoekom moet ons eers swaarkry om weer te buig voor God? Is swaarkry en God se oordeel nie ook maar ons verdiende loon nie?

Oom Gert Nelson van Aranos sê nou een dag met trane in sy oë: as ek so na die wêreld om my kyk sou ek ook nie reën gegee het as ek God was nie. Die mense om ons het slim en selfvoldaan geword. Die Woord word nie meer onvoorwaardelik geglo nie. Vandag sien ons gruwelike dinge wat God minag en tart. God word deesdae nie gereken nie. Ons is god in onsself. Ons wil ons lewe self reël. Ons leef ook net vir vandag se genot. Ons betwyfel God se bestaan en Sy vermoëns. Ons glo nie aan die wederkoms of hemel of hel nie. Die laaste oordeel oorweeg ons glad nie en dit maak dat ons goddeloos en God-loos leef. Ons wêreld het boos geword.

Waarmee is ons besig? Hoe lank nog, Here? Bid dat God se wil in jou lewe sal geskied. Sy wil vir jou is dat jy daagliks met die besef sal leef dat die Here God is. Wat is ons verdiende loon?

Jesus, kan ons nie maar uit die geskiedenis leer dat U waarlik God is en nie met U laat mors nie.

Gebedsake:

1. Bid vir die Amos Meerkat kleuterskole regdeur Namibië.
2. Bid dat die Amos gebedsbrief mense geestelik sal versterk en hulle lewens sal verryk.
3. Bid dat die Kolskoot boodskappies op Kanaal sewe wyd en suid die kol sal tref.
4. Bid vir die Queen Sophia projek, asook Chris en Jessie van Rooyen wat aan die stuur staan.
5. Bid dat die droogte oral in Suidelike Afrika gebreek sal word en bid ook vir die finansiële herstel van die boeregemeenskap na die jarelange droogte.
6. Bid vir ons regerings in Namibië en Suid Afrika dat God deur hulle manier van doen verheerlik sal word.
7. Bid dat ons landbouleiers God sal vertrou en nooit skaam vir Hom sal wees nie.
8. Bid vir die herstel van die kleinvee en speenkalf bedryf in ons land.
9. Bid dat die kwessies rondom grond, grondhervorming en hervestiging, in Suidelike Afrika regverdig en volgens God se beginsels hanteer sal word.
10. Bid vir die geestelike ontwaking/ wedergeboorte van elke boer, veral Afrikaner boere.
11. Bid dat ‘n nasionale begeerte van verootmoediging voor God, ons sal oorval.

Geluk aan almal wat in die komende week verjaar. Mag jy die seën van die Here beleef omdat jy gehoorsaam aan die Skrif wil leef en 'n ware dissipel vir Jesus wil wees.

As jy enige sake vir voorbidding het kan jy dit gerus deurstuur dan plaas ek dit in die gebedsbrief...

Amosgroete vanuit 'n warm en baie droë Kalahari
Smittie Kotzé

Bestel gerus vir jou 'n "Gebedsleiding". Kontak die Amoskantoor in die verband: 081 148 8993.

As jy 'n plaaswerkerskamp wil bespreek, kontak vir Jannie Wiese by: 062-570316.